Daar was 'n tyd, ek' s amper seker daarvan, toe die "monster" onder my bed, die enigste een was waaroor ek myself hoef te bekommer het. Daai salige jare waar ek met gekoekte hare en kolle op my klere deur die dae gegaan het, kattekwaad aangejaag het en doodmoeg in die bed neergeval het en my gebedjie opgesê het. Soos ouma my geleer het. Want Liewe Jesus luister altyd, selfs na stoute dogtertjies.
Toe begin die lewe se rondomtalie draai, om en om en om, so dat jou maag net-net begin draai maar jy skaterlag van die lekker kry. Maar van lekker lag, kom lekker huil. Dit was die kreet van my ma. Ek kon toe nie begryp hoekom huil kwansuis lekker is nie, my ma is seker simpel. Maar elke keer wanneer my rondomtalie bietjie te vinnig om gaan of te wankelrig raak, was daar altyd 'n vangnet. So die "ups and downs" van die lewe was nie so erg nie. Ek was steeds 'n kind, soortvan...
Kind wees is 'n voorreg, ontneem van baie van ons. En die wie dit in oorvloed kon beleef sal nooit verstaan wat dit beteken om te smag na kinderlikheid nie. Nie kinderagtigheid nie, nee. Kinderlikheid. Om nie bekommernisse te hê nie, nie hoef te bloos wanneer groot mense begin lag as jy laat glip jy het stres nie. Nie jou huil hoef in te hou want "groot meisies huil nie!", nie geïrriteerd te raak deur die simpelheid van kind wees nie want daar is nie tyd daarvoor nie.
Watse begrip van tyd kan 'n kind tog hê?
But chin up sunshine, die lewe is moeilik, deal with it.
So dan gaan jy maar aan en lag vir simpel goed en huil in die geheim oor dieselfde simpel goed. Jy neem beheer oor jou rondomtalie en skop en hardloop langs hom want tyd wag vir niemand... Nie eers vir jou nie. Of so dink jy, want niemand het jou verduidelik dat 'n rondomtalie stadiger gaan as jy ophou hardloop en skop nie. Jy moet dit mos self leer, die lewe is nie vir sissies nie! En eweskielik word daar nuwe goed om jou rondomtalie gesit: ware vriende, nuwe liggies wat flikker, mooi klere, haar kleur, makeup, aanhangers, kurwes, intelligensie, hardkoppigheid, swak besluite, skynbare vriende, drank, bakleiery, vrede, kalmte, vreugde, hartseer, hartseer, hartseer, hartseer... En daar stop jy hom, en jy probeer anderkant om hardloop maar dis nog 'n ding wat niemand jou gesê het nie: tyd wag vir niemand, hy sal nog minder homself terug draai nie, veral nie vir jou !
Met 'n sug begin jy dan maar weer, die keer met meer kennis en jy vat dit stadiger. Jy gooi af wat hom swaar maak, jy olie die pype en pak ekstra mooi goed op. Maar jy hou van daai hartseer en van die seer en jy sit dit saam met jou herinneringe. Jy gebruik dit wanneer jy nodig het, maar net in geheim. Die wêreld het nie tyd vir jou drama nie. Maar tog kom die moeilikheid weer en klim op, maar dis nie moeilik om dit te aanvaar nie want dis lekker. Julle dans en baljaar saam en vertel al julle geheime! Julle glo dis 'n band wat nooit sal kan breek nie. Maar die rondomtalie spin alweer te vinnig en van die mooi goedjies val een vir een af, tot jy weer stil staan en jou platvorm herrangskik. Eerste die sagte mooi goedjies, dan die stoute goedjies, dan die simpel goedjies, dan die goeie goed, dan kom die moeilike deel. Jy probeer die moeilikheid af gooi, maar dit klou en kleef en skree hulle is jammer. Hulle sal nie weer nie!! Asb gee hulle net nog 'n kans. En die sagte goedjies trek aan jou gebreekte snare en jy los hul op. Jy is so emosioneel en bly (?) dat jy nie eers sien hul het meer as helfte van die plek oor geneem nie. Die goeie en sagte plekke is drasties verminder...
Draai, draai, draai. Om en om en om. Goed sleg goed sleg. Tik tok tik tok. Die keer stop hy nie.
Jy gaan soek jou mooi gedeelte en jy kry 'n klein ou hopie met 'n beertjie op. Hys oud en vuil. Jy tel hom op en eweskielik is jy weer klein en sorgvry. Jy onthou toe jy hom gekry het, van al die speelgoed in die hele supermark, wou jy net daai beertjie hê. Dit was 'n goeie dag. Niemand het daai dag baklei nie. Niemand het daai dag gehuil nie. En jy het verjaar. Daai dag was jou dag. Daai dag het in die beertjie se oë bly sit. Hyt jou begin smeek om weer daai kind te word, jy wou huil en sê dis te laat. Maar die trane was lankal verbode...
Maar elke aand fluister jy in teddy se ore hoe jou dag was, jy voel nie so simpel nie want niemand weet nie. Want niemand gee regtig om nie. Jy begin in jouself die mense soek na wie jou hart smag. Jy begin die mense word wie jy gewens het was jou vriende. Jy begin prioriteite kry en jy begin die rondomtalie se ritme respekteer, en een vir een klim die slegte goed af. Een vir een verloor jy nog 'n "vriend" of 'n "vriendin". Maar dit voel nie soos daai keer toe jy jou katjie verloor het nie, dit voel eerder soos toe jy jou katjie weer gekry het. Jy raak deurmekaar en dit gooi jou van ritme af, die rondomtalie begin wankel en bewe en jy klou aan jou beertjie vas en fluister al jou vrae in sy ore. Stadig maar seker begin die bewerende rondomtalie weer mooi en egalig loop. Jy plant 'n paar blomme en jy olie weer die pype.
Jy laat net mooi en goeie goed op, jy nooi die regte tiepe mense op en jy begin hom weer draai in 'n nuwe parkie. Die hartseer lê steeds daar, want trane maak die siel skoon, dis die olie vir die pype, dit laat jou onthou hoe vinnig die rondomtalie buite beheer kan raak. Jy fluister steeds al jou geheime en drome in die beertjie se oor, maar deel dit ook met die res van die mense op jou platvorm. Jy leef vir die eerste keer in vrees en vrede in dieselfde tyd. Jou asem word daagliks weg geslaan deur enige iets en deur alles. Jy lag skielik weer uit jou maag en ruik weer die soet geure van die lewe.
En elke aand wanneer die rondomtalie rustig om en om draai en hier en daar 'n bietjie bewerig raak, fluister jy steeds in jou beertjie se ore.
En wat maak dit saak dat jy Liewe Jesus jou beertjie noem? Hy luister mos altyd, selfs na stoute dogtertjies.